Operasie Gomorrha

Die verwoeste Hamburg in 1943

Operasie Gomorrha was die militêre kodenaam vir 'n reeks lugaanvalle wat deur die Britse Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog vanaf laat Julie 1943 teen die Noord-Duitse hawestad Hamburg uitgevoer is. Dit was destyds die ergste bomaanvalle in die geskiedenis van die lugoorlog. Die naam van die operasie verwys na die Bybelse verhaal oor die stede Sodom en Gomorrha wat as die tuiste van sondaars en misdadigers beskou is en deur God in 'n reën van vuur en swawel vernietig is. Die lugaanvalle, wat op bevel van die omstrede lugmaarskalk en opperbevelhebber van die Britse Bomber Command, Arthur Harris, uitgevoer is, was dan ook daarop gemik om 'n vuurstorm in die woonbuurte van Hamburg te ontketen.

Volgens beramings het meer as 35 000 siviele burgers in die inferno gesterf, en 125 000 is beseer. 900 000 Hamburgers het te voet uit die stad gevlug.[1] Die meeste van die slagoffers het in die digte rook verstik, en skokwekkende foto's soos dié van 'n klein seuntjie wat nog in die dood aan 'n lugbeskermingshelper vasklou nadat beide in die rook verstik het, kon eers ná die oorlog gepubliseer word - die Nazi-minister van propaganda en "volksvoorligting", Joseph Goebbels, het nuusberigte oor die gevolge van lugaanvalle summier verbied, en ook die brandwere van Duitse stede was nie gemagtig om hul ervarings tydens die brandbestryding uit te ruil nie.[2] Goebbels se siniese kommentaar ná die aanvalle op Hamburg was "Man stellt sich doch alles viel schlimmer vor, als es nachher tatsächlich ist." [Dinge blyk uiteindelik minder erg te wees as wat mens eers gedink het].

Altesaam 277 000 woonstelle, 24 hospitale, 277 skole en 58 kerke is in die lugaanvalle vernietig.[3] Net soos in alle ander gevalle het Adolf Hitler geweier om 'n besoek aan die verwoeste Hamburg af te lê - hy het aanvanklik self gedreig om Britse stede "uit te wis" en het later nooit enige bomskade in Duitse stede met sy eie oë gesien nie.[4]

  1. Unser Jahrhundert im Bild. Gütersloh: Prisma 1985, bl, 573
  2. Unser Jahrhundert im Bild (1985), bl. 572-573
  3. Broszat, Martin en Norbert Frei in samewerking met die Institut für Zeitgeschichte in München: PLOETZ - Das Dritte Reich. Freiburg en Würzburg: Ploetz 1983, bl. 137
  4. Unser Jahrhundert im Bild (1985), bl. 573

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search